Beknopte geskiedenis van Hervormde Gemeente Magaliesmoot

Magaliesmoot se storie is die verhaal van 'n geloofsfamilie. Die gemeente is bekend vir hegte vrienskapsbande en 'n familiale karakter. Daarom dat hierdie paar woorde hoogstens 'n beknopte geskiedenis sal wees. Die oorwig van staaltjies en ervarings sal uit die pen van lidmate kom en deur die foto's vertel word.

Gemeente Magaliesmoot het op 20 November 1970 van Wesmoot afgestig en was aanvanklik in kombinasie met Gemeente Wesmoot. Albei gemeentes is deur wyle ds GPJ Grobler bedien. Prof PS Dreyer het die gemeente van 1972 tot 1979 bedien. Toe prof PS Dreyer op 22 Oktober 1977 die eerste sooi gespit het om 'n kerkgebou op te rig, het daar 'n oomblik se gewyde stilte geheers. Sewe jaar voor daardie dag reeds is die eerste saadjies vir voltydse bediening in hierdie omgewing gesaai. Dat daardie saad met rasse skrede begin groei en geblom het, lei geen twyfel nie. Vandag, jare later, gaan die gemeente steeds voort met haar bediening. Dat daar struikelblokke deur die jare was, daaroor wonder niemand nie. Met die hulp van Bo, die ywer en oorgawe van kundige lidmate, kerkrade oor die jare en deur gesonde interaksie met buurgemeentes en instansies uit die gemeenskap, is krisisse telkens afgeweer. Dr SP Pretorius het van 1980 tot 1989, as eerste voltydse predikant, in hierdie ontluikende gemeente diens gedoen. Hy was 'n geliefde predikant wat vir geen uitdaging gestuit het nie. Onder sy leiding het onder andere die kerksaal en kategeseklasse tot stand gekom.

Sedert 1995 is die gemeente deur slegs twee voltydse en een deeltydse predikant bedien. Ds Wimpie Steyn dien van 1990 tot sy aftrede in 2010 in NHKA Magaliesmoot. Ds Steyn het diep spore in die gemeente getrap. Hy sal onthou word as prediker wat altyd deeglik voorberei was, pastor sonder gelyke en kosbare vriend van elkeenwat hom geken het.

Ds David Barnard is sedert 2011 tot tans hier werksaam. Ds Barnard se passie was, en is steeds, barmhartigheid en uitreik na die breër gemeenskap. Hy het groot moeite gedoen om bande met ander kerke en groepe in die direkte omgewing te smee. Ds Mariët Robbertze het as deeltydse predikant van 2001 tot 2016 waardevolle diens op verskeie terreine gelewer. Dit is veral haar kreatiewe Bybelstudies en prediking wat almal steeds bybly. Die feit dat al die predikante wat by hierdie gemeente betrokke was, vir lang tydperke hier gedien het, is 'n stille getuigskrif van die hartlikheid en liefde wat almal hier ervaar het.

Die ou sêding in ons omgewing lui: "As jy eers die Moot se water gedrink het, skuif jy moeilik".

Die gemeente was egter bevoorreg om ook vir korter tye, maar met groot impak, van die dienste van dr WA Dreyer, ds LJ van der Linde, proff JH Barkhuizen en TFJ Dreyer gebruik te kon maak.

Die afgelope 25 jaar is verskeie groepe en komitees op die been gebring en in stand gehou. Onder andere 'n sterk groep vir senior burgers, naamlik die Goue Gerf, en groepe vir steun aan siekes en ander behoeftiges. Die klem het oor die laaste vyf jaar ook sterk geval op uitreik en bediening na buite. 'n Gemeenskapsentrum, Community Life Centre, het die lig gesien. Die gedagte was om die immergroeiende getal behoeftiges met geestelike en fisieke voedsel te ondersteun. Deur die sentrum het 'n omgeekring ontstaan wat stemme gegee het aan almal wat normaalweg nie 'n stem sou hê nie.

Beraders uit die gemeente se geledere het gratis dienste aan die breër gemeenskap begin bied. 'n Motorfietsgroep, Bybel Bikers, het Bybels aan mense in die omgewing begin versprei. Die gemeente het selfs 'n oornagfasiliteit by die muurbalbaan ingerig met die oog daarop om haweloses wat slegs 'n nag se verblyf nodig het, te huisves. Die normale Bybelstudies, Bybelskole, fondsinsamelingsgeleenthede, jeugaktiwiteite en meer, het soos altyd voortgegaan. Aangesien die kindergetalle jaarliks verminder het, is kategeseklasse gekombineer en is kinders eerder met 'n program deur 'n tweeweeklikse Kinderkerk met die evangelie bedien.